’Oom’ Sarel by die werk het ‘n ritueel. Eintlik het hy baie – maar meer daarvan dalk later. Dis net sy manier van dinge doen wat dit so deernisvol maak.
Om 10:00 vm élke liewe dag sedert ek en hy rug aan rug in ons IT opset sit, haal hy ‘n lemoen uit sy groen en geel ‘BP’ koelsakkie uit, skuif sy sleutelbord terug, vou ‘n servet op die oop plekkie voor hom oop, haal sy knipmes uit sy sak (goeie ‘ou’ boereoompie wat hy is van Brits, wat op die een of ander vreemde manier ná sy boerdery verkoop is of gevou het, honderd jaar terug in IT beland het) en begin om sy lemoen te skil.
Hy het ‘n baie presiese manier van skil. Eers sny hy die kop af en dan begin hy sulke lang eweredige vertikale insnydings in die skil te maak, wat mekaar aan die onderkant ontmoet.
As die skil af is, breek hy die lemoen in die helfte en begin dan die wiggies uitmekaar haal en dan begin die proses om hulle netjies in ‘n ry langs mekaar op die servet uit te stal. Nou haal hy sy sout-grinder (“growwe sout, BB’tjie, nié skudsout nie!!”) uit die kassie bokant sy
grys kop uit en girts-girts word die hele ry wiggies be-sneeu. As die soutpot terug is in die kas en die skille in die asblik, skuif hy hom behaaglik reg en begin die wiggies so een vir een in sy mond te sit.
Elke dag dieselfde tyd vra hy met ‘n lemoenwiggie in die kies en so ‘n kopknik: “Hmmm??” terwyl hy ‘n wiggie in sy hand na my kant toe hou. (dit beteken “enetjie vir jou BB?”. En elke dag dieselfde tyd sê ek : “Nee dankie, Oom Sarel”. Al het ek nog nooit een gevat nie, offer hy steeds elke dag. (en ek dink hy’s weird?!
)
As hy die laaste wiggie afgesluk het, vat hy die servet van die kante af vas en met ‘n sirkelbeweging word die oppervlak voor hom skoongevee. Dan frommel hy die servet op en mik soos ‘n wafferse basketbalspeler na my asblik toe en gooi die bolletjie servet daarin. 3 uit 5 dae van die week is dit mis. Ek buk elke keer en gooi dit dan in syne. Ons smile vir mekaar.
Ek reken ek (en die res van die mensdom) is te besig – selfs om ‘n lemoen te skil. Ek het altyd nóg werk om te doen, nóg ‘n vergadering om voor te berei, nóg dringende statistieke om te trek of ‘n oproep om te maak.
Ek jaag deur die oggendverkeer, draf soggens hier in, storm smiddags weer uit en jaag terug in die middagverkeer. Ek kan darem nou nie sê dat ek as gevolg daarvan humeurig of kort van draad is nie – of dat ek niemand ‘the time of day’ gee nie, of niemand kans gee om in die verkeer in te beweeg nie, of nie ander se behoeftes in ag neem nie, maar ek het bittermin tyd om net my eie spreekwoordelike lemoen te skil.
Oom Sarel se 15 minute ritueel om 10:00 elke dag, bring ‘n sekere soort kalmte mee. Dis of almal wat in die naaste omgewing sit, begin om net gou ‘n klets of ‘n grappie te deel. Dis die tyd wat ek ook altyd my wieletjies-stoel omdraai en die gedoente aanskou – soms, as ek regtig dringende werk het, is dit vir my irriterend (and I mean that in the nicest possible way – die gevoel van ”ja, toe-toe-toe kry nou maar klaar, ek het werk om te doen”), sodat ek kan aangaan – asof my ‘aangaan’ van sy ritueel se afhandeling afhang. Maar op ‘n manier dwing hy my om net vir ‘n oomblik na 2-3 oggendure se gejaag ‘n bietjie briek aan te draai en te fokus op iets so onbelangrik as lemoenskil…
Ons het dalk almal in ons dol dae ‘n lemoenskiller nodig, wat ons weer leer om daaglikse routine as amperse weelde te waardeer - en wat ons met die soet reuk van lemoen terugbring na ‘n plek en tyd toe daar nog tyd was.
Vandag gaan ek die wiggie by hom vat….
BB ek onthou my oupa het ook altyd alles so netjies geskil, aartappels, dan is die skil so lank, sonder dat die skil iewers breek, ek het dit al getry, maar kry dit nie eers amper reg nie!! Nee wat ek gaan nou nie myself so straf om ‘n lemoen of wat ookal so prefek of presies te skil nie, spaar my tog dit!! Ek eet maar min lemoene omdat dit my maag so aan die brand steek! Maar suurlemoene kan ek een na die ander een eet dit maak my niks nie! BB lekker dag vir jou. Vat by ~oom~ Sarel sommer twee wiggies!!
Ag Beeps, dis ‘n pragtige inskrywing. Ek hoop jy geniet jou wiggie.
Sjoe BB dit was ‘n baie, baie mooi inskrywing. Jy is reg, ek het so lemoenskiller in my lewe nodig.
BB, het jy toe jou wiggie gevat by hom vandag?
Baie mooi inskrywing, dit was nou amper of ek ‘n movie gekyk het hierso!
Dis darem lekker as jy lemoen kan eet wat iemand anders vir jou afgeskil het. Hier is so juweel wat saam met my werk – het nou die dag alles afgeskil – ek kon net eet!!
Ek het toe gevat!! (Ek dink hy’t amper van sy stoel afge-ehm-dinder
– wou-wou die gevoel kry toe ek die ‘vleisie’ so raakvat, toe wil hy al oudergewoonte einste stuk in sy mond ‘pop’ – amper ‘n saggiese toutrekkery afgegee. Niks gesê nie. Net gesmile. True ou gentleman…
Toggs!!! Welkom, man!!
Dis netsoos jy sê! ‘n Geskilde lemoen is net sovéél lekkerder as ‘n ehhhmmmm… ongeskilde lemoen?!?!
Ai BB hoe laat jy my nou verlang na my ou Pappa. Hy kon ‘n lemoen ook so skil en dan kon hy een van daardie skilwiggies op ‘n manier sny dat dit soos 2 skakels van ‘n ketting inmekaar haak. Dit was altyd vir my as kind net te wonderlik. Dankie vir jou mooi inskrywing!!!
Dit was nou ‘n lekker lees. Ek is bly jy het toe daardie wiggie gevat! Soms maak net een mens wat een wiggie vat, die wêreld se verskil aan die skiller se bestaan…
Mooi storie!
Mooi inskrywing BB!! Oom Sarel wonder seker nou nog hoekom jy nou juis vandag ‘n wiggie gevat het!
My oupa het ook sy lemoene so geskil. Maar die sout was nie deel van die ete nie. Ja, vandag gaan ons by Cafe Vida lang, koop vars uitgedrukte lemoensap, en het nie meer ‘n idee hoe ‘n lemoen voel nie!
Tyd vir stilstaan, ne.