Archive for July 11th, 2008

11
Jul
08

We are the music makers and we are the dreamers of dreams…

Vandat ek kan onthou, wou ek ’n aktrise word. Ek kan in alle eerlikheid sê dat ek nie ‘n rolmodel gehad het nie – ek wou nooit soos dié of daardie wees of lyk nie. Ek wou net graag ‘verhoog’ toe… het toe ook in 1982 die ATKV se Nasionale Hoërskole Drama kompetisie gewen. Goue medalje vir Beste Aktrise. Was by tannie Carike Keuzenkamp op ‘Kraaines’ as gas. Die verhoogstuk is uitgesaai op SAUK (ons het dit in Aucklandpark se studios gaan ’skiet’ – 2 dae make-up, kameras, ‘aksie’ - (ek het iewers nog ‘n video opname daarvan en nogal foto’s geneem van die tv-skerm daai aand :grin: ) - By Carel Trichardt ‘n lang preek (en ‘n notatjie) gekry dat ek moet drama swot. Trudie Taljaard het my genooi om haar toneelskool by te woon en ek was vuur en vlam… en toe gebeur die lewe en ja, in ‘n mate was dalk veral my ma se (on)betrokkenheid en belangeloosheid seker die grootste deurslaggewende faktor vir dit wat daarvan gekom het…

Moet my nou nie misverstaan nie!! Ek wéét alte goed dat jou drome noodwendig by jouself moet begin en dat ‘n doelwit eintlik net ‘n droom is met ‘n spertyd. Die ideaal is dat jy jou droom moet uitleef en Roer se kleintyd drome se quote: “If you can dream it, you can do it.”  seker maar daardie ideaal is.

Ek en my Papa het eendag nie te lank terug tydens my laaste kuier by hom nogal hierdie tema aangeraak. Drome, beroepe… en hy het iets gesê in die lyn van: “… die mens moet vrede maak daarmee dat hy in die sweet van sy aangesig sal werk, dat hy nie altyd alles kan hê soos hy dit droom nie, dat die realiteit van die lewe dit is: dat jy ‘n lewe moet maak – en ‘n droom hou jou nie aan die lewe nie”. En ek het in my stilligheid gedink : Dis soooo unfair. en waar. en ’sad’. maar waar. En iewers het ‘n stemmetjie binne-in my gewonder of my pa nie ook tog maar lank terug drome gehad het en gevra wanneer en presies wat het gebeur dat die realiteit die droom oorwin het? Ek wonder soms steeds…

Intussen het my drome verander. Ek het ander talente ontdek. En saam met daardie ontdekking het daar ‘n ander droom gekom – meer as 20 jaar later sit ek met ‘n nuwe droom. En hierdie keer gaan ek alles in my vermoë doen om my droom waar te maak. Ek wil nie weer oor 20 jaar sit en reminisce en tob oor “what could’ve been”. Ek wil nie weer die spreekwoordelike vinger ‘point’ en iemand anders met die skuld belas dat my droom nie gerealiseer het nie.

As jy nie ‘n passie het, ‘n droom, ‘n blink-oog visie nie, is jy nie die volle mens wat jy moes wees nie – dan leef jy nie, jy oorleef net.

Ek het nog iets geleer in die lewe: dat jou droom eers dan werklikheid geword het as dit mense aanraak. As ander mense daaruit iets put. As jy saakmaak. ‘n Verskil maak. En treetjie vir treetjie, sonder die kleinste bietjie publisiteit, sukses of groot fanfare, is my grootste genoegdoening juis wanneer ek net één mens sien glimlag of lag of ‘n traan pik wanneer ek ‘n liedjie geskryf het of sing. Wanneer ek wéét, my droom begin vir iemand anders ook saakmaak vir geen ander rede as dat die Groot “Dream Giver” my Skepper is en geen droom verniet en sonder rede in jou hart gesit word nie. Dis hoekom jy jou droom móét leef – dis dan mos jou doel!?

Ter afsluiting… (klink ek nou soos Ds. van T :grin: ) – mag ek altyd, altyd solank as wat ek my eie droom het, ook ander se droom raaksien en daar wees om hulle aan te por en te ondersteun en selfs in die onwaarskynlikheid daarvan die visie deel – dat jy jou droom verwesenlik en as die lewe gebeur en jou realiteit jou droom onderbreek, ek daar sal wees om jou aan jou droom te herinner. Dis die enigste manier wat ek van weet, waar jy jou ware volheid en rede tot bestaan sal vind.

“Twenty years from now you will be more disappointed by the things that you didn’t do than by the ones you did do. So throw off the bowlines. Sail away from the safe harbor. Catch the trade winds in your sails. Explore! Dream! Discover!”  Mark Twain




 

July 2008
M T W T F S S
« Jun   Aug »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031  

Archives