Niemand is so alleen soos dié wat praat en nie gehoor word nie, huil maar nie gesien word nie
Niemand is so alleen as dié wat omring is met bekende asems, stemme, arms en ten spyte daarvan alleen voel nie
Niemand is so alleen soos dié wat bemin en begeer, meer as wat hulle ooit bemin en begeer word
Niemand is so alleen soos dié wat vuiste omhoog regstaan vir ‘n geveg waarin die teenstaanders hulle rug op hulle draai

Niemand is so alleen as dié wat bereid was om álles te gee vir ‘n ander een – en dan besef dat hulle niks oorhet van hulleself nie
Niemand is so alleen as dié wat sit en wag vir hulle grootste vrese om bewaarheid te word
Niemand is so alleen as die wat hulle selfvertroue en eiewaarde verloor het wanneer hulle wakker skrik uit ‘n droom op ewige geluk
Niemand is so alleen as die wat volhard om te glo in dié wie nie geloofwaardig is nie
Niemand is so alleen as die wie se liefde nie genoeg was nie. Nie genoeg om te beantwoord nie. Nie genoeg om te eerbiedig nie
Niemand is so alleen soos die wat verbete vasklou aan ‘n gebroke Eenheid omdat hulle nie kans sien om die lewe alleen te lewe nie
Niemand is so alleen as een wat deel van twee was… wat saam Een was… wat besef dat hulle weer één moet word
Maar uiteindelik is niemand só alleen as dié wie dit uitgedeel het en uiteindelik eendag self alleen is
Baie waar en baie sad, Beebs.
Ai, BB, mag ons nooit so alleen wees nie!
Sjoe Beebs – ongelooflik treffend!
Dit saam met my post-vakansie heimweë….eish