08
Sep
08

Willem…


Hierdie brief het vandag by my uitgekom. Dis eina seer. Lees dit asb en kyk of jy nie dalk lus voel om Willem se hart te verbly nie:

Liewe …

Baie dankie dat jy wil probeer help om Willem se dag (of moet ek sê dae?) te maak! Ek waardeer dit verskriklik. Ek gee weer vir jou al die inligting. 

Dit breek my hart om te sien hoe alleen Willem is. Dit is asof die Leukemie sy eensaamheid met ‘n dik swart pen kom onderstreep het. Almal op die dorp ken hom, maar byna niemand reik uit na hom nie.

Mense sien hom rondloop en hy lyk nie op die oog af siek nie, so hulle dink dalk nie aan al die vrese en onsekerheid waarmee hy op die oomblik sit nie – dinge wat hy dikwels nie eers kan verwoord nie. Dit sal regtig vir hom die wêreld beteken as hier meer dikwels briefies of kaartjies in die pos kan wees. ‘n Kort, positiewe, bemoedigende (of selfs snaakse) nota of kaartjie hoef nie lank te neem nie. Maar vir Willem kan dit oneindig baie beteken om te sien dat mense (al is dit mense wat hy nie ken nie) aan hom dink en vir hom voorbidding doen. Soos jy gesê het, kan daar dalk selfs kinders wees wat vir hom ‘n prentjie wil teken.

Ek dink spesifiek aan iets wat oor die pos kom, eerder as epos, omdat Willem so opgewonde soos ‘n kind is as hier die slag vir hom ‘n koevert in die posbus is – iets wat baie selde gebeur. Dit is hierdie GROOT GEBEURTENIS wat vir hom vir dae lank plesier verskaf. As dit gereeld kan gebeur, kan dit hom absoluut optel en ‘n baie positiewe effek hê.

Ek dink dat Leukemie vir enige van ons ‘n massiewe uitdaging sal wees. Vir ‘n gestremde ou is dit nog soveel moeiliker. Dit begin in ‘n sekere sin dalk nou eers regtig tot ons deurdring dat hierdie ‘n lewenslange situasie is. Ons moet almal nog leer hoe om daarmee saam te leef en ons moet maniere vind om vir Willem met die hantering te help. Vir my pa-hulle sal dit natuurlik ook makliker wees as hulle sien dat Willem ekstra ondersteuning van buite kry.

Ek het gehoop dat ek die gedagte dalk selfs buiteland toe kan laat uitkring via mense met kinders of familie oorsee. Willem kan Engels ook goed verstaan. ‘n Koevert van oorsee sal natuurlik èèrs spesiaal wees.

Wat hy het is Kroniese Miëloïed Leukemie of CML (Chronic Myeloid Leukemia). Dit is menslik gesproke iets waarmee hy lewenslank sal moet saamleef. Daar is nie tans ‘n genesende middel daarvoor nie. Dit is egter vroeg gediagnoseer en die prognose is goed, maar dit bly ‘n lewens-bedreigende siekte. Hy sal vir die res van sy lewe medikasie moet gebruik om dit onder beheer te probeer hou. Die feit dat Willem verstandelik gestrem is, kompliseer die situasie. Hy kan nie altyd vir ons verduidelik hoe hy voel (fisies of emosioneel) nie, of oordeel oor die erns van simptome en newe- effekte nie. Ons moet hom baie fyn dophou.

Ek wens op die oomblik so dat ek lekker dinge saam met hom kon doen om dit vir hom daardie bietjie makliker te maak. Maar terwyl dit nie moontlik is nie, wil ek baie graag hierdie poging laat sneeubal met die hulp van vriende.

Ons moet net eenvoudig ‘n manier vind om Willem se dae op te vrolik en om vir hom iets te gee om na uit te sien. Dit is belangrik om hom so positief as moontlik te hou.

Willem Theron
Posbus 745
Caledon
RSA
7230

Dankie dat jy sal probeer help. Jy kan selfs hierdie brief vir julle predikant gee – dalk kan hulle dit op die gemeente se afkondigings sit. Dalk kan E… selfs vir ‘n juffrou vra of die skool nie briefies vir Willem bymekaar wil maak nie. Enige iets wat kan help.

Liefde
Rika


14 Responses to “Willem…”


  1. September 9, 2008 at 7:39 am

    Knop-innie-keel briefie, Beeps. 😥

  2. 3 BB
    September 9, 2008 at 9:45 am

    Willem is in sy dertigs en ook verstandelik gestrem.

  3. September 9, 2008 at 3:01 pm

    Ek vra dit om te weet op watse toon ek die brief moet skryf.

  4. 5 Krista
    September 9, 2008 at 3:02 pm

    /me pos sommer hierdie naweek vir Willem ‘n oulike kaartjie met ‘n briefie daarby . . .

  5. September 9, 2008 at 6:24 pm

    Ek gaan ook ‘n briefie skryf!

  6. September 10, 2008 at 1:09 pm

    Ek sal ook vir hom ‘n briefie skryf. En ek gaan jou possie sommer aanstuur na familie in NZ – miskien gooi hulle ook vir hom ene in die pos! 😉

  7. September 11, 2008 at 2:28 pm

    Ek stuur ‘n poskaartjie uit Korea!

  8. 9 BB
    September 11, 2008 at 4:04 pm

    Julle Allermooistes is iets ALLER-AWESOME!!
    Thanks Kaalvoet!! hy sal soooo excited wees!!
    xx

  9. September 12, 2008 at 3:32 am

    Dis ‘n moviese plesier BB. Ek sal ‘n mooi ene uitsoek van die see en eiland in Korea en dalk sommer gereeld vir hom enetjie in die pos gooi! Ek sal jou laat weet sodra dit in die pos is ;-)Dit vat so 2-3 weke om in SA uit te kom.

  10. September 16, 2008 at 10:54 am

    Dis darem ‘n wonderlike idee. Tegnologie maak die mens tot mens aanraking soms soveel makliker, al vervreem tegnologie weer mense op ander vlakke.

    Dankie dat jy omgee en dit geplaas het!

  11. September 16, 2008 at 2:26 pm

    We call on to Beepstes to write us a post. Wriiiiiite us a post! Write us a, write us a, write us a post. Write us a, write us a, write us a post. Write us a, write us a, write us a post. Write us a nAAAAAis old post. Heeha!

  12. September 17, 2008 at 6:40 am

    Kalmeer, Roer! 😆 Ek’s seker sy sal…eventually!

    Mens word so oordonder met versoeke vir geldelike hulp, put mens skoon uit. En dan so versoekie…net vir ‘n briefie. Ek sal ook vir hom enetjie stuur.

  13. September 17, 2008 at 9:43 am

    Ek’s nuut hier by jou, BB, maar sal vandag nog dat die 3 Prinsessies elk vir Willem ‘n kaartjie/prentjie/briefie van af die Ukay stuur!

    Thanx dat jy die brief met ons deel en ons ‘n geleentheid gee om iemand se lewe op te helder!


Leave a reply to kaalvoetinireen Cancel reply


September 2008
M T W T F S S
1234567
891011121314
15161718192021
22232425262728
2930  

Archives

Blog Stats

  • 186,337 hits