20
Apr
17

Ek eer jou gedagtenis…


Vir E…

Daar is ‘n gat in die vorm van my pa in my hart
Dié ruimte gevul met onthou-jy-nog smart
Dis dalk nie ‘n lewensgevaarlike toestand vir my
Maar lewenslank sal dié leemte ‘n deel van my bly.
Kom terug! Nee, bly! Ja, gaan beslis –
Na dáár waar ook óns vrede is!
My Pappa, weer kind in GOD se Hand,
Uiteindelik veilig in SY Ewigheidsland.
“Vir ewig verenig”, troos-fluister HY
“Kyk, my seun Frikkie is hier! By MY”.

~BB~

Liewe E,

Ek ken jou. Maar ek ken jou nie regtig nie. Ek het jou pa geken, maar ook nie regtig gekén nie. Ek het hom wel ontmoet en darem ‘n hele paar keer met hom deur die afgelope twintig jaar heen terloopse kontak gehad – al was dit net om jou ma se foon by die werk te antwoord om sy vriendelike stem te hoor, meesal met die versoek dat sy hom terugskakel. Altyd met ‘n opregte ‘hoe gaan dit’. As mens hom gesien het, was hy nooit sonder ‘n smile nie.

Maar, E, sommige mense hoef mens nie noodwendig te kén om wel te weet dat hulle sout van die aarde, goedhartige, sielsmense is nie. En dis juis wat jou pa, glo ek, vir ‘n klomp mense verteenwoordig het. Dis ook wat ek maar so tussen die lyne en geselsies deur met jou ma die afgelope klompie jare, van jóú ervaar het.

Dalk is jy in jou binneste jou pa se spieëlbeeld. En as jy is, moet jy weet dat dit goed en reg is so. Daar is soveel mense wat by ‘n mens soos skepe in die nag verbyseil op aarde. Min van hulle laat ‘n indruk agter. Die luidrugtiges doen dalk, maar ook net vir ‘n kort wyle.

As ek aan jou pa dink, onthou ek die sagtheid. Die deernis. ‘n Sensitiwiteit en nederigheid wat mens nie sommer meer raakloop elke dag nie.

Jou pa moes seker in sy lewe al baie keer gewonder het of hy vir ‘n jong seun soos jy, as pa suksesvol was. Ek weet nie of hy dit aan wêreldse standaarde gemeet het nie. Ek hoop hy het dit in ewigheidsleer gemeet en geweet dat hy vir jou was, wat nét hy vir jou kon wees. Ek glo hy het jou meer nagelaat as goeie opvoeding, groot woorde en voorskrifte. Party mense noem dit gene. Maar ek glo hy het vir jou ‘n stukkie van sy eie siel gelos. Iewers langs jou lewenspaadjie sal jy jou pa binne-in jouself raakloop en dit hopelik raaksien en herken as ‘n herinnering én eerbetoon aan die mens wie hy was.

Ek weet nie hoe om vir jou raad te gee om die verlies en hartseer te oorkom nie. Elkeen het sy eie tyd en manier. Party dae is dit beter en sommige dae, jare later, steeds moeilik. Ek weet net dat ek gevoel het om jou ‘n klein bietjie troos te gee met die volgende:
Ons ken God, die Vader, juis omdat ons die Seun ken, nê?

E, die mense wat nooit die voorreg gehad het of sal hê om jou pa te ontmoet het of te leer ken nie, sal hom wel tog op ‘n manier kan ‘ken’ deur jou. Al sy goeie eienskappe lê binne jou. Maak die mooiste daarmee wat jy kan en só sal hy voortleef in wie jy is en wat jy verteenwoordig.

Loop mooi met jouself op die pad vorentoe. Die volwasse grootmens buite oorskadu soms die kind binne. Moenie jou pa se seuntjie vergeet nie. Gee tyd, gee aandag, gee troos aan daardie outjie binne-in jou. En watookal op jou pad kom: Ek weet sommer dat mense nog eendag in die toekoms vir jou gaan sê : Jy moes ‘n awesome pa gehad het, om so ‘n awesome man te wees.

Mense sal hom ken, juis omdat hulle jóú gaan ken.

Sterkte. En lééf jou lewe elke liewe dag – ek glo as ons hulle wat ons vooruitgegaan het, kon vra, sou hulle net dit vir ons sê: die blye weersiens is in ‘n oogwink voor ons – moenie een oomblik laat verbygaan om voluit te leef nie.

My innige simpatie
BB

MaanKind

Miskien is dit nie gepas om op Goeie Vrydag oor die dood te skryf nie, maar dalk is dit juis, vir perspektief.

As iemand ná aan jou doodgaan is dit seer, jou hart is rouerig en bloederig en blootgestel, want nooit is ‘n verskriklike woord. Die ergste is waarskynlik om ‘n kind te verloor, daardie pyn kan nie weggaan nie, al is dit seker moontlik om later vir rukkies daarvan te vergeet.

Daar is iets in ons kultuur rondom die afsterwe van mense wat net nie vir my sin maak nie. Waarom tog het mense skielik meer respek vir iemand as hy dood is as wanneer hy lewe? Mens sien dit so baie dat mense oor oseane heen vlieg om iemand se begrafnis by te woon, of iemand se begrafnis bywoon wat hulle in geen jare gesien het nie. Niemand waag om lelik te praat van iemand wat pas dood…

View original post 446 more words

Advertisements

7 Responses to “Ek eer jou gedagtenis…”


  1. April 20, 2017 at 10:56 am

    Pragtig geskryf!

  2. April 20, 2017 at 12:48 pm

    Hierdie brief is vol sinne wat ek bitter graag vir myself sou wou lees toe my ma dood is. Dit is so vol deernis en begrip, BB.

    • 3 BB
      April 21, 2017 at 4:11 am

      Dankie U x

  3. April 20, 2017 at 2:33 pm

    Ai, die dood maak maar altyd klomp mense seer …

  4. May 10, 2017 at 5:09 am

    BB, die brief wat jy vir die seun geskryf het, is so mooi, dit het my aan my eie, dierbare pa laat dink.

    • 6 BB
      May 10, 2017 at 5:14 am

      Dankie liewe Toortsie x

      • May 10, 2017 at 5:15 am

        Xx


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s


April 2017
M T W T F S S
« Mar   May »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930

Archives

Blog Stats

  • 160,547 hits

%d bloggers like this: